Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 39

VERGEET HIERVAN GEDURENDE DIE EERSTE TIEN DAE

Оглавление

As jy hierdie wenwenke volg om jou lewe – en Baba s’n – so maklik moontlik te maak gedurende die eerste tien dae, sal die eerste drie maande wat soveel vrees by ouers inboesem, heel waarskynlik vlot en sorgvry verloop.

•Vergeet voorlopig van ’n groot skoonmakery en ’n silwerskoon huis. Baie vroue wil uit die staanspoor bewys dat hulle terselfdertyd die perfekte huisvrou én ma kan wees. Onthou egter dat dit tyd neem om aan te pas en dat dit op dié tydstip baie belangriker is om as nuwe gesin jul voete te vind en mekaar te leer ken.

•Moenie bekommerd raak as dit voel asof jy nie die mas opkom en daar eenvou­dig te veel is om te doen nie – dit is heeltemal normaal, en jy hoef voorlopig net die noodsaaklikste take te verrig. Vra gerus familie en vriende om die inkopies te doen en ander take te verrig.

•Dit is die eerste tien dae nie regtig nodig om jou pasgebore baba te bad nie – dit is heeltemal voldoende om hom net af te vee, veral sekere dele soos die boud­jies en agter die ore. Sulke klein babatjies raak nie eintlik vuil nie.

•’n Roetine is iets wat geleidelik en met verloop van tyd gevestig raak, moet dit dus nie binne die eerste paar dae probeer afdwing nie. Ontspan en neem waar, en jy sal wel agterkom watter patrone belangrik is.

•Pasgebore babas is geneig om die eerste tien dae allerlei uitslaggies op hul ge­sigte te kry. Die meeste sal weer vanself verdwyn. Tensy dit baie lastig raak of nie gou verdwyn nie, is dit nie nodig om jou dieet aan te pas of mediese advies te kry nie.

•Moenie bekommerd raak as jou baba se naelstringstompie soos ’n stukkie biltong begin lyk of daar ’n bietjie bloedjies uitsypel nie. Maak dit net silwerskoon met elke nuwe doek. Die stompie behoort ná twee weke af te val en die bloeding be­hoort teen ses weke op die uiterste te verdwyn.

•Bewys jouself ’n guns en belê in weggooidoeke vir hierdie stadium – sorg net dat jy die beste gehalte koop! Jy kan later na handdoekstofdoeke oorslaan wanneer jy jou rol as moeder onder die knie het.

•Babas se naels groei in dié stadium baie vinnig, maar moenie benoud raak omdat jy dit moet knip nie – gebruik eenvoudig ’n klein amarilbordjie om hulle kort en glad te hou sodat Baba nie haar gesiggie raak krap nie. As sy wel ’n skrapie of twee kry, ontspan, dit sal gou vanself genees.

•Moenie jou bekommer as Baba blertse melk opbring wanneer jy sy winde uit­vryf nie – dit is gewoonlik maar min melk en dit beteken nie jy moet van voor af begin voed nie. Sulke blertse lyk gewoonlik meer as wat dit is.

•As Baba nie binne 5 minute ná ’n voeding ’n wind opbreek nie, kan jy maar op­hou vryf. Hy het óf nie lug gesluk nie óf dit sal later vanself boontoe of ondertoe uitkom.

•Vergeet in dié stadium maar van borslappe. Baba kwyl nog nie veel nie, en net ’n handdoekstofdoek help vir melkblertse!

•Vergeet van deftige babakleertjies en gebruik eenstukbabapakkies wat jy maklik vir jou lewendige, wriemelende poppie kan aan- en uittrek.

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх