Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 42

VROEË VOEDING EN GEWIGSTOENAME

Оглавление

Borsvoeding

Baba se voeding is aanvanklik een van die grootste en tydrowendste uitdagings, of jy nou bors- of bottelvoed. ’n Aanpasbare, selfs onkonvensionele benadering lewer die beste resultate; hou dus hierdie beginsels in gedagte, al sê wie ook wat. (Lees meer in die afdeling oor melkvoeding in hierdie gids.)

•Vermy medikasie tydens kraam sodat Baba nie te lomerig is om korrek vas te suig nie.

•Borsvoed so gou moontlik ná geboorte om die aangebore reflekse te stimuleer.

•Laat Baba by jou in die kamer slaap om te voorkom dat hy ongewenste aanvullende voe­dings kry.

•Maak seker dat sy korrek aan die bors vassuig – sien die wenke vir Dag Een.

•Moenie volgens ’n skedule voed nie.

•Onthou dat borsvoeding ná drie maande al hoe vinniger en makliker verloop.

•Sorg dat jy gerieflik is terwyl jy borsvoed – sien die borsvoedingsposisies in die afdeling oor melkvoeding.

•Drink water, kruie- of rooibostee wanneer jy dors is.

•Plaas ’n koolblaar wat ’n paar sekondes in kookwater geblansjeer is 2 uur lank oor jou bors as jy pyn, klonte of rooiheid ervaar.

•Beperk suiwel en koring in jou dieet as jy borsvoed.

•Gebruik homeopatiese middels vir winderigheid en koliek soos ColicCare- en Chamomilla-tablette – die regte middel lewer gewoonlik baie bevredigende resultate.

•Onthou dat dit nie net ’n fisieke taak is om jou baba te borsvoed nie, maar dat dit julle albei die unieke geleentheid gee om mekaar se nabyheid te ervaar en mekaar beter te leer verstaan.

Bottelvoeding

As jy van geboorte af hierdie opsie kies, sorg dat jy ingelig is oor die verskillende melkformules en botteltoebehore om te verseker dat jou ondervinding so positief moontlik is. Hou hierdie wenke in gedagte en lees meer in die afdeling oor melkvoeding in hierdie gids.

•Moet verkieslik nie volgens ’n skedule voed nie en maak voorsiening vir Baba se individuele eetlus. Gebruik die voorgestelde hoeveelhede en voedingstye op die blik as ’n riglyn, eerder as ’n rigiede reël.

•Onthou, dit mag ’n rukkie duur om aan ’n nuwe formule gewoond te raak; moet dus nie te vinnig na ’n ander soort oorskakel nie.

•Kies ongeag die koste ’n spesiaal aangepaste formule as daar ’n familie­geskie­denis van allergieë is of as Baba ’n spesiale probleem soos gastriese terugvloeiing het.

•Gebruik verkieslik ortodontiese tiete vir die beste moontlike ontwikkeling van die kakebeenstruktuur.

•Gebruik ’n klein tiet vir pasgebore babas om te voorkom dat hulle stik.

•Hou Baba altyd in jou arms vas terwyl jy haar voed ter wille van emosionele koestering.

•Moenie jou baba laat plat lê terwyl jy haar bottel gee nie – ’n bietjie melk kan agter uit die keel tot in die buis van Eustachius in die oor loop en irritasie en moontlike oorinfeksies veroorsaak.

•Berei melkformule met effens afgekoelde kookwater voor om dit meer verteerbaar te maak.

Gewigstoename by babas

Babas verloor aanvanklik 5–10% van hul geboortegewig. Daarna tel hulle 150– 250 g per week op, na gelang van erflike faktore, gesondheid, die soort melk en hoe goed julle albei by die voeding aangepas het. Borsbabas tel aanvanklik in die eerste maande vinniger gewig op, maar die tempo neem later af. Bottelbabas mag meer egalig gewig optel, of aanvanklik stadiger en later vinniger. Moenie jou te veel bekommer oor hoe vinnig Baba gewig optel nie, solank sy net gedy. ’n Baba verdubbel sy geboortegewig teen ongeveer die vyfde maand.

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх