Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 41

BABA SE BADTYD

Оглавление

Badtyd is ’n tyd vir waarneming, pret, stimulasie, ontspanning, voorbereiding vir slaap, en ’n nuttige hulpmiddel om ’n gevoel van roetine aan jou dag te gee. Dit dien ook as tydverdryf wanneer Baba effens knieserig is of jy eenvoudig nie die energie het om aan nog ’n enkele manier te dink om sy aandag af te lei nie.

Daar is nie net een regte manier om ’n baba te bad nie. Elke kraamopvoeder en -nasorgvroedvrou wat haar sout werd is, sal ’n demonstrasie lewer van hoe om Baba te bad, dus is dit te begrype as jy dink dit is ’n baie gewigtige saak. Jy sal moontlik die eerste paar keer voel asof jy tien duime het en Baba sal waar­skynlik aanvanklik bietjie ontsteld raak, maar voor jy weet waar jy is, sal badtyd vir julle albei een van die genotvolste tye van die dag word.

Badwenke

WAT JY ALLES NODIG HET OM BABA TE BAD

•2 groot, sagte handdoeke, een oop­gesprei op die werkvlak, die ander gereed in geval van ’n glipsie

•3 sagte waslappe (een vir die gesig, een om die hare af te droog, een om op die baba se magie te sit – sien die stapsgewyse badriglyne hieronder)

•Wattebolletjies

•Wattestokkies om die naeltjie (by pasgebore babas) en die oorskulp skoon te maak

•Babasjampoe

•Vloeibare seep

•Babaroom

•’n Skoon doek

•’n Stel skoon klere.

•Baba kan enige tyd bad, maar dit skep ’n rit­me as jy dit elke dag op dieselfde tyd doen. ’n Bad saans is ’n goeie af­­sluiting vir die dag, of ’n oggendbad kan die oggendslapie voor­afgaan.

•Baba kan óf in ’n groterige handewasbak gebad word, mits die krane nie on­ge­mak­lik geplaas is nie, óf in ’n baba­bad. Kies die opsie wat jou die beste pas. Rig ’n werk­vlak in wat jou rug spaar.

•Jy hoef Baba nie elke dag te bad nie; dit is heeltemal voldoende om net bolangs en onderlangs af te vee, maar onthou dat ’n bad ’n mens help om rustig te slaap, dat dit ’n aangename tydverdryf is en dat dit Baba lekker vars sal laat voel.

•As Baba honger is, voed haar eers om die ergste honger te verdryf voordat jy haar bad.

Dit is baie belangrik om georganiseerd te wees! Sorg dat jy al die benodigdhede gereed het voordat jy Baba uittrek.

•Gooi alle sepe en sjampoes in drukspuitbottels wat jy maklik met een hand kan hanteer.

•Die grootste pret is om saam met Baba in die groot bad te bad. Dit is ’n wonder­like manier vir pa’s om ’n band met hul kleingoed te smee. Wees versigtig wanneer jy in en uit die bad klim – laat jou maat verkieslik vir Baba vashou.


’N STAPSGEWYSE GIDS TOT BADTYD

•Sorg dat die temperatuur in die kamer aangenaam warm is – gebruik ’n verwarmer in die winter.


•Was eerste Baba se gesig – gebruik wattebolletjies en afgekoelde kookwater vir pasgebore babas. Later kan ’n spesiale waslap vir die gesig gebruik word. Doen dit voordat jy Baba in die bad tel.

•Was ook Baba se hare voor jy haar in die bad sit. Draai haar styf toe in ’n groot handdoek met haar arms langs haar lyf en hou haar soos ’n rugbybal onder jou arm. Hou haar kop in jou hand vas, druk haar ore met jou duim en jou middelvinger toe om te voorkom dat daar water in haar oorkanale beland. Maak haar hare nat terwyl jy haar oor die bad hou, wend sjampoe aan, spoel af en droog met ’n klein handdoekie of sagte gesigwaslap af.


•Jy kan Baba vol seep smeer voordat jy hom in die water sit of wanneer hy reeds in die bad is. Albei maniere werk ewe goed.

•Laat Baba met haar voete teen die rand van die bad vastrap om haar veilig te laat voel en te verhoed dat sy huil.

•As Baba sy arms wild rondswaai en angstig lyk, plaas ’n sagte lappie oor sy maag en hou dit warm en klam; dit help hom blykbaar “anker”.

•Hou Baba se verste arm stewig met jou hand vas terwyl haar nek op jou gewrig rus, en was die voorkant van haar lyfie met jou los hand. Vat dan dieselfde arm met jou los hand vas en laat haar ander arm en borskas op jou voorarm rus terwyl jy haar in ’n “paddatjie”-posisie omdraai om haar rug en boudjies te was.

•Sodra Baba se hele lyfie gewas is, tel hom stewig om die borskas op, skud liggies die oortollige water oor die bad af en draai hom vinnig in die sagte handdoek toe wat jy reggesit het. Tel hom op en droog hom af terwyl jy hom vashou om te voorkom dat hy begin huil.


•Droog al die voutjies en plooitjies af sodra Baba tevrede is.

•Smeer babaroom en -poeier volgens Baba se be­hoeftes aan en trek hom so vinnig moontlik aan.

•Ignoreer enige gille van protes terwyl jy hom aantrek.

•Ná ’n voeding of massering behoort Baba nou lank en rustig te slaap.

•Ruim op terwyl jy werk sodat jy nie agterna met ’n morsige badkamer sit wanneer die nag daal nie.

•Wees versigtig om nie Baba se gesig onder die water te druk terwyl jy haar boudjies in die bababad was nie.

•Speel strelende musiek as Baba besonder angstig is of nie van water hou nie.

•As Baba gedurende die nag sukkel om te drink en glad nie tot ruste wil kom nie, tap ’n diep, warm bad en voed haar daar. Sy sal binne 20 minute bedaar en rustig slaap.

•Bestudeer jou baba se hele lyfie tydens badtyd – dit is die een tyd wanneer jy al die hoekies en draaitjies tegelykertyd kan sien en enige kommerwekkende tekens sal bespeur.

•Nadat jy Baba uitgetrek het, is die ideale tyd om kielie-, rol- en ander speletjies te speel om jou kleinding te laat skaterlag en in ’n goeie bui te kry voordat jy haar bad.

Vrees vir bad namate Baba ouer word

’n Weersin in bad en hare was is baie algemeen en veroorsaak dikwels probleme. Dit waai meestal vanself oor as jy nie te veel van ’n ophef daaroor maak nie. Moenie gejaag of angstig raak nie, want dit sal net ’n teenreaksie by jou kind ontlok. Hy sal die fase wel ontgroei, fokus dus op die lig aan die einde van die tonnel! ’n Mens moet bloot ’n praktiese manier vind om badtyd te hanteer, en een van die volgende voorstelle behoort ’n oplossing te bied. Raadpleeg ’n kindersielkundige indien ’n traumatiese voorval met water tot die probleem gelei het en hierdie wenke nie help nie. Intussen:

•Bad saam met jou kleinding.

•Plaas die bababad binne-in die groot bad of storthokkie.

•Laat Baba ’n frokkie en oefendoek aanhou en was eenvoudig daaronder.

•Spoel peuters in die somer buite onder die tuinslang af of was hulle buite in ’n groot skottel water.

•Was jou kleinding met ’n waslap terwyl hy in die badkamer of in die bad regop staan.

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх